Waarom voëls soggens sing

Lank, lank gelede, in Groot-Geluk se bos, kon voëls en bome met mekaar praat.
Daar was ’n familie voëls met drie kinders: Blou, Pienk en Geel. Hulle het almal in ’n groot, wyse boom met die naam Mamango gewoon.
Die voëltjies se mamma het ’n pragtige stem gehad! Sy het elke oggend vroeg wakker geword om haar lied te sing.
Maar eendag het ’n droogte die land getref. Riviere het opgedroog en die blare het van die bome afgeval.
Mamango het lank en diep gedink. “Dalk moet ons die towerwurm wat reën bring gaan haal. Maar wie sal gaan?”
“Ek sal gaan. Ek is nie bang nie,” sê die voëltjies se mamma. En sy vlieg weg.
Almal verlang na die voëltjies se mamma en haar lied. Sou sy ooit weer haar pad huis toe vind?
“Kom ons sing Mamma se lied,” stel Geel voor. “Mamma sê altyd as ons haar lied sing, sal sy haar pad terug na ons toe vind.”
“Maar ek weet nie hoe om te sing nie!” huil Pienk.
“Het jy al ooit probeer sing?” vra Mamango.
“Ek het al probeer sing,” sê Geel. “Ek kan jou leer.”
Vroeg die volgende oggend sing Geel toe Mamma se liedjie: “Dis ’n lieflike oggend! Ons word wakker en sing!” Uiteindelik sing al die voëls in ’n koor saam met Geel.
Die voëltjies se mamma het haar pad terug na Groot-Geluk gevind, en sommer gou het dit weer begin reën. En van toe af sing die voëls altyd soggens.

Why birds sing at dawn Afrikaans