Bora wag saam met Pappa
by die kliniek.
Sy speelgoedapie, Jojo,
het ook saamgekom.
Jojo slaap in Bora se rugsak.
“Ek hou nie van naalde nie.
Dit maak ’n mens seer!” sê Bora.
“Inspuitings help om jou gesond te hou. ’n Mens mag maar bang wees, Bora. Pappa sal hier by jou bly.
En Jojo ook.”
“Bora Baraka!”
roep ’n harde stem.
“Ons moet ingaan, Bora,” sê Pappa.
“Dis jou beurt.”
“Ek dink ons moet liewer môre terugkom, Pappa!” sê Bora.
“Onthou jy wat Pappa
gesê het jy gaan kry as jy
dapper genoeg is om jou
inspuiting te kry?” vra Pappa.
“’n Rooi suigstokkie!
Goed, ek kom,” sê Bora.
Die dokter glimlag vir Bora. “Is dit
jou apie? Kan ons hom ook
ondersoek?” vra sy.
Bora kyk na Pappa,
dan na Jojo, en knik.
“Nou’s dit jou beurt,” sê sy.
“Sal jy my help om vir jou apie
’n klein inspuiting te gee sodat hy beter kan voel?” vra die dokter.
“TJOEP!” sê die dokter toe
sy vir Jojo die apie ’n
inspuiting gee.
“Nou’s dit jou beurt. Is dit ’n
superheld wat op jou T-hemp is?” vra sy.
“TJOEP!” sê sy toe sy vir
Bora die inspuiting gee.
“Eina!” roep Bora.
“Haai, dit was nie so erg nie!”
“Ek weet dit brand ’n bietjie, maar ons is klaar en jy was baie dapper!” sê die dokter.
“Een rooi suigstokkie vir ons dapper
Bora!”
Brave Bora Afrikaans (2)
Dapper Bora
Illustrator: Ellen Heydenrych
Author: Edna Gicovi
Designer: Raeesah Vawda
Licence: Creative Commons Attribution 4.0
Website: https://bookdash.org/
Translator: Anita van Zyl
Editor: David Mann