Blou Voëltjie is verveeld. “Ek is moeg vir hierdie nes,” sê hy.
“Ons het ’n nuwe huis nodig.”
“As jy daarop aandring,” sê Bruin Voëltjie.
“Maar ek trek nie, tensy die nuwe nes beter is
as die een wat ons nou het.”
“O, ja,” sê Blou Voëltjie.
“Dit sal ’n wonderlike nes wees.
Ek sal die beste nes ooit vind!”
“Kyk hoe mooi is hierdie nes! Dis snoesig en sag.
En daar’s ’n bed vir albei van ons.
Dit is die beste nes vir ons.”
Maar dit is nie!
“Kyk hoe pragtig is hierdie nes. Dis so vrolik en kleurvol.
Dit is die heel beste nes.”
Maar dit is nie!
“Kyk hoe mooi blink is hierdie nes. Kyk hoe
glinster dit.
Dit is die beste nes nog.”
Maar dit is nie!
“Kyk hoe groot is hierdie nes!
Dit het selfs sy eie deur.
Dit is die heel beste nes.”
Maar dit is nie!
“Kyk na hierdie nes.
Kyk hoe stewig is dit gebou.
Dit is die heel beste nes.”
“Ja, dit is,”
sê Bruin Voëltjie.
The best nest Afrikaans
Die Beste Nes
Illustrator: Megan Vermaak
Author: Crystal Warren
Designer: Ashlyn Atkinson
Licence: Creative Commons Attribution 4.0
Website: https://bookdash.org/
Translator: Anita van Zyl
Editor: David Mann