Die Grootste Gawe

Jibraan bou graag met sy blokkies. Pappa sê: “Dis baie goed, Jibraan. Jy het ’n talent om dinge te bou!”
En wat as ek nog ’n talent het, wonder Jibraan. “Het ek net een talent, Pappa?” vra hy. “Jy sal net weet as jy ’n klomp goed probeer doen,” sê Pappa. “Ek wil probeer krieket speel,” sê Jibraan.
Hy begin krieket speel by die skool en leer kolf en boul. Hy kan die bal baie hard slaan.
“Sjoe!” sê die afrigter, meneer Uno. “Jy is so ’n goeie kolwer. Jy het ’n gawe, Jibraan!”
In die karateklas oefen Jibraan sy katas by sensei Shaukat. Sy maatjie Sumeya is baie goed. “Uitstekend, Sumeya!” sê sensei Shaukat. Jibraan probeer weer. Hy maak nog ’n fout. Hy gee vir Sumeya ’n high five. “Jy’s regtig goed, Sumeya. Jy’t ’n talent vir karate.” “Jy’t nie moed opgegee nie, Jibraan. Dis ook ’n gawe,” sê Sumeya.”
“Hoe was die karate?” vra Pappa. “Ek het baie foute gemaak, maar ek het nie moed opgegee nie, Pappa. Karate is Sumeya se gawe.” “Jy sal ander talente ontdek,” sê Pappa. Jibraan wonder wat dit kan wees...
Ek is lief vir musiek. Is ek goed in musiek? “Pappa, kan ek tromme speel?” vra hy. “Kom ons kyk,” sê Pappa.
Hulle keer ’n paar kastrolle om en vat twee houtlepels om as tromstokkies te gebruik. Jibraan verbeel hom ’n hele orkes speel saam met hom. Hy slaan ’n lekker ritme met sy tromstokkies.
Klein Laith wikkel heen en weer in die babastoel op die ritme wat Jibraan tokkel.
“Dit klink te wonderlik,” sê Pappa. “Ek hou van die ritme. Jy’t ’n talent, Jibraan.” Hahahaha! Jaaaaaaa! Jibraan lag. Dis heerlik om ’n nuwe talent te ontdek wanneer hy iets nuuts probeer. “Dis lekker, Pappa! Ek hou van my talente.” Jei! Jaaaa
Net toe wikkel klein Laith te wild en hy val saam met sy stoel om. Jibraan spring op om sy boetie te help. “Is jy oukei, boetie?” vra hy. Aauuu!
Hy vryf Laith se koppie. Hy soen sy trane weg. “Sal ’n soentjie dit beter maak, boetie?” vra hy. “Sal ’n drukkie dit beter maak?”
Pappa glimlag. “Aha,” sê hy. “Kyk net hoe vol liefde is jy. Dis die grootste gawe van almal! Dis die een wat jy elke dag moet oefen.” Jibraan lag. Klein Laith lag ook. “Wat is jou gawe, klein Laith?” vra hy.

The best gift Afrikaans (2)