Die winterkoue is verby. In die dorpie Ndlovu word dit lente. Binnekort sal die inwoners van die dorp bymekaar kom om die nuwe seisoen te vier. Nkanyezi sien meer uit na die Fees van die Lente as na enige ander dag van die jaar.
Een warm oggend hoor Nkanyezi twee van die oudstes in die dorp oor die fees gesels.
“Die mense van Ndlovu het vergeet hoe om fees te vier,” sug een.
“Hoe kan ons die Fees van die Lente in ’n dorp hou wat vergeet het hoe om fees te vier?” vra ’n ander.
Nkanyezi is bekommerd.
“Hoe sal die son weer skyn as ons nie sing om dit uit sy winterslaap wakker te maak nie?” vra sy haarself af.
Toe dink Nkanyezi vir ’n baie lang tyd.
“Ek moet die dinge wat ons verloor het, vind,” besluit sy. “Ek moet gaan soek na dinge wat die mense van my dorp sal help onthou hoe om fees te vier.”
Die oudstes gee aan die jong meisie hul seën vir haar reis. Hulle gee ook vir haar ’n sak om die dinge wat sy vind, in te dra.
Toe sy haar reis begin, voel Nkanyezi ’n bietjie bang, maar sy wil ook graag die mense van haar dorp help.
Nkanyezi stap die hele dag lank. Sy stap teen ’n heuwel op, en in ’n vallei af. Sy seil oor die groot rivier, en klouter tussen skerp rotse. Sy marsjeer oor die vlaktes totdat sy by die skaduwee van die rooi berge kom.
Toe dit aand word, kom Nkanyezi op ’n dorpie aan met patrone en kleure soos wat sy nog nooit voorheen gesien het nie. Sy vertel vir die oudstes van die dorp van haar reis om haar mense te help onthou hoe om fees te vier.
Die moeder van die stam gee vir Nkanyezi ’n geskenk en sê vir haar: “Ons gee met liefde vir jou hierdie verf om kleur terug te bring na ’n dorp waarvan die kleur vervaag het.”
Nkanyezi bedank die oudstes en sit die verf in haar sak.
Vroeg die volgende oggend vertrek sy weer, opgewonde oor hierdie geskenk van kleur.
Nkanyezi stap die hele dag lank, deur ’n reuse woud met reusagtige bome. Toe die lug te donker word en sy nie meer kan sien nie, hoor sy die geluid van tromme. Sy haas haar na die tromme, en voel hoe dit die dans in haar moeë voete laat loskom.
Nkanyezi bevind haarself in die dorpie van die Bhubezi. Mense sit om ’n vuur en sing en speel trom. Sy het nog nooit voorheen sulke pragtige musiek gehoor nie.
Sy vertel vir die oudstes van die dorp van haar reis om die mense van haar dorp te help onthou hoe om fees te vier. Die Bhubezi nooi haar om te rus en die nag by hulle oor te bly.
Die volgende oggend laat roep die hoofman vir Nkanyezi.
“My kind,” sê hy, “hier is ‘n spesiale trom. Elke keer as jy daarop slaan, sal dit ‘n nuwe
lied speel.”
Nkanyezi bedank die hoofman en sit die trom in haar sak. Sy val weer in die pad, verheug oor hierdie geskenk van musiek en dans.
Op die derde dag van haar reis, toe Nkanyezi verby ’n veld vol vet koeie stap, begin haar neus kriewel.
’n Aroma kielie haar smaakknoppies en haar mond begin water. Sy volg die reuk en kom in ’n dorpie aan waar mense om stomende potte bredie staan.
Hierdie dorp is bekend vir sy feeste. Nkanyezi het nog nooit sulke wonderlike geure geproe nie. Toe sy klaar geëet het, vertel sy vir die oudstes van die dorp dat sy op reis is om die mense van haar dorp te help onthou hoe om fees te vier.
Die volgende dag gee die kokke vir haar ’n geheime mengsel van speserye.
“Ons dogter,” sê hulle, “hierdie speserye waarborg gelukkige, vol magies! Ons gee aan jou die geskenk van goeie kos.”
Nkanyezi bedank die kokke en sit die speserye in haar sak. Sy weet sy het alles waarna sy op soek was. Met nuwe lewenskrag begin sy die lang reis terug na haar dorpie, Ndlovu.
Toe Nkanyezi tuiskom, drom die dorpenaars om haar saam om van haar avonture te hoor. Sy vertel hulle die stories van dit wat sy gesien, gehoor en geëet het. Toe maak sy haar sak oop om die geskenke wat sy gekry het, met hulle te deel. Die mense is verheug oor hierdie skatte.
Die vrygewigheid van die ander mense, en Nkanyezi se dapperheid, bring kleur, musiek en dans, en goeie kos na die mense van die dorp terug. En so het die mense van die dorp Ndlovu weer onthou hoe om fees te vier.
Searching for the Spirit of Spring Afrikaans
Nkanyezi en die Fees van die Lente
Illustrator: Selina Masego Morulane
Author: Mosa Mahlaba
Designer: Sibusiso Mkhwanazi
Licence: Creative Commons Attribution 4.0
Website: https://bookdash.org/
Translator: Nal’ibali