’n Vis en ’n Geskenk

Een spesiale Vrydag trek Yusuf se pa sy klere aan lank voor dit lig word. Hy trek sy swaar waterdigte baadjie aan, en hy trek sy groen wolmus oor sy ore. Hy waai vir Yusuf tot siens. Yusuf se oë blink toe Pappa sê: “Vandag is die dag dat ek ’n vis gaan vang en vir jou ’n geskenk gaan huis toe bring.”
n Vis en ’n geskenk? O, wat sal dit wees? Pappa ry met sy fiets tot by Muizenberg se strand. Skwiek, skwiek maak die wiele al die pad tot by Surfer’s Corner. Die seemeeue draai in die lug rond. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys hulle. “Wat gaan jy vir Yusuf terugbring?” Pappa lui sy fietsklokkie. “Wag en kyk wat ek bring!”
Die vissermanne kyk hoe die son opkom. Hulle gaan hulle nette na. Hulle kyk dat hulle roeispane reg is. Hulle luister na die wind. Hulle sleep hul bote water toe. Yusuf se oupa, Oupa Salie, was ’n treknet-visserman. Voor hom het sy pa, Oupagrootjie Ridwaan, ook die see geken.
Die boot vaar die golwe in. Pappa se arms beur aan die roeispane. Sy bene druk teen die kante vas. Sy nekspiere bult, sy rugspiere tril. Pappa sing terwyl hy werk: “Kan nie rus. Vang ’n vis. Trek en plop. Moenie stop.”
Yusuf kyk heeldag lank na die lug. Dit is ’n helder, wolklose, windlose dag. ’n Vis en ’n geskenk! Wat sal Pappa van die see af terugbring? Soms bring hy ’n pragtige skulp. Soms bring hy ’n juweelgroen bottel wat deur die golwe skoongespoel is.
Sommige dae bring Yusuf se pa ’n storie terug. Soos die keer toe hulle seeskilpaaie op die sand gevind het, honderde wat tydens ’n storm uitgespoel het. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys die meeue. “Wat gaan julle doen om die seeskilpaaie te help?” Pappa sê: “Laat ek julle vertel, ons het daardie seeskilpaaie gered. Ons het elke enkele een teruggesit in die see.”
Pappa bring altyd ’n liedjie huis toe. Hy sing die liedjie terwyl hy aan die spane trek. Hy sing die liedjie terwyl hy die nette trek. Hy sing die liedjie terwyl hy die toue oprol. Hy sing die liedjie terwyl hy met sy fiets huis toe ry. “Kan nie rus. Vang ’n vis. Trek en plop. Moenie stop.”
Yusuf hou Ouma se hand vas. By die aantrekhokkies stap hulle oor die pad. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys die seemeeue op die helder dakkies. “Wat’s vir aandete?”
Verlede jaar het die vissermanne met die branderplankryers baklei. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys die meeue. “Daar’s genoeg see vir almal,” het Yusuf se pa gesê. Hy het vir die branderplankryers die vislisensie gewys wat nog Oupa Salie s’n was. “Die golwe is almal s’n. Die water is verniet.”
Ouma Safiya kyk deur haar verkyker, haar vingers krul van nuuskierigheid om die verkyker. Die haaisirene lui. Swemmers hardloop terug sand toe en gryp hulle handdoeke. Branderplankryers jaag terug strand toe met hulle borde onder hul arms. Onder die storte stroop hulle hul duikpakke af. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys die meeue. “Wat sal Yusuf se pa uit die see saambring?”
Yusuf se pa en oom en neefs kreun en trek. Hulle het ’n klein haaitjie gevang. Die haai wriemel rond in die golwe. Yusuf se pa knoop die net los, en sing vir die haai: “Kan nie rus. Vang ’n vis. Trek en plop. Moenie stop.” Toe die haai uiteindelik vry is, skiet dit terug in die golwe in, en net een vet geelstert bly in die ne agter. Ouma Safiya sal bly wees.
Die mans trek die boot in en rol die kabels op. ’n Harde wit driehoekie haak aan Pappa se vinger vas. “Waaat? Waaat? Waaat?” krys die meeue. “Wat het jy vir Yusuf teruggebring?” Toe die son sak, antwoord Pappa die meeue: “’n Gelukkige haaitand vir my seun.” By die huis hou Yusuf sy geskenk op na die sterre.

A fish and a gift Afrikaans (2)