Waarom Vlieë Vir Koei Pla

Het jy al 'n trop koeie in die veld sien wei? Elke nou en dan sal jy sien hoe 'n koei haar kop skud. Sy probeer die vlieë wegjaag wat haar lastig val. Maar waarom zoem-zoem-zoei die vlieë so graag om Koei se kop?
Hulle sê dit het lank, lank gelede begin, in 'n land ver hiervandaan. Die koningin van die land was ryk en het 'n goeie hart gehad. Op 'n keer besluit sy om 'n groot fees te hou. Al die diere word genooi. Daar is reuse tafels wat pragtig gedek is. Elke tafel kreun behoorlik onder al die lekkernye, skottels vol vleis, varsgebakte brood, stomende groente en stroopsoet vrugte.
Die diere lek hulle lippe af toe hulle die lekker kos sien. "Die grootste dier aan elke tafel moet by die punt sit," sê die koningin. "Dit is sy of haar werk om die kos uit te deel." Koei beland saam met Skaap, Bok, Hond, Gans en Vlieg aan 'n tafel. Omdat Koei die grootste is, begin sy die kos uitdeel. Elke dier kry 'n groot stuk varsgebakte brood met druiwekonfyt en kaas.
Maar omdat Vlieg so klein is, sien Koei haar skaars raak. "Zoem! Zoem! Zoei! Wat van my? Gaan ek ook iets te ete kry?" brom Vlieg. Maar Koei maak of sy haar nie hoor nie. Sy smul te lekker aan die brood. Arme Vlieg sit droëbek en kyk hoe die ander diere eet.
Toe elke krummeltjie brood op is, deel Koei die vleis en groente uit. Elke dier kry 'n groot bak vol kos. Maar omdat Vlieg so klein is, sien Koei haar weer skaars raak. "Zoem! Zoem! Zoei! Wat van my? Gaan ek ook iets te ete kry?" brom Vlieg, harder as die vorige keer. Koei rol haar oë en kyk vies na Vlieg.
"A nee a! Waar's jou maniere?" sê Koei. "Goggas soos jy hoort nie eens by die koningin se feesmaal nie. Jy kan wag tot ons groter diere klaar geëet het." Sommer gou is al die vleis en groente op. Arme Vlieg kry nie eens 'n krieseltjie nie. Koei begin die vrugte uitdeel. Daar is watertand lekker waatlemoen, sappige spanspek en blinkwang appels.
Weer kry al die diere kos, behalwe Vlieg. "Zoem! Zoem! Zoei! Wat van my? Gaan ek ook iets te ete kry?" kla Vlieg. Koei lag en vat 'n hap van haar appel. "Hoor julle iets?" vra Koei vir die ander diere aan die tafel. "Ek hoor niks nie." Sommer gou is al die bakke aan die tafel dolleeg geëet. Die diere is trommeldik. Almal behalwe Vlieg. Haar maag grom van die honger.
Ná ete is dit tyd om te dans en fees te vier. Maar Vlieg is te kwaad. Sy besluit om huis toe te gaan. Die koningin sien vir Vlieg. "En nou, Vlieg?" vra sy. "Waarom is jy op pad huis toe? Is my feesmaal dan nie lekker nie?" Vlieg buig laag voor die koningin. "Jammer, u Hoogheid," sê sy. "Ek is seker die kos was baie lekker. Maar ek het nie 'n krieseltjie daarvan geproe nie." Toe vertel sy vir die koningin wat gebeur het. Die koningin was baie kwaad toe sy hoor wat Koei gedoen het.
"Van nou af mag jy en jou maats elke dag vir Koei lastig val," sê die koningin. "Van soggens tot saans mag julle om haar ore zoem. Dit sal haar 'n les leer. Sy sal nooit weer maak of sy jou nie raaksien nie. En sy sal sien dat selfs die kleinste gogga vir my belangrik is."
En dit is presies wat Vlieg tot vandag toe doen. Sy en haar maats vlieg van soggens tot saans om Koei se ore rond. En terwyl hulle dit doen, sing hulle, "Zoem! Zoem! Zoei! Nooit ooit weer nie! Nooit weer sal jy ons ignoreer nie!"

Adiel-Kamalie-Waarom-Vliee-vir-Koei-Pla