Sizwe se glimlag

Dit reën al dae lank, en almal is iesegrimmig. Almal behalwe Sizwe, wat elke oggend met ’n glimlag wakker word. “Yoh! Sizwe! Daardie glimlag het towerkrag!” sê Gogo. “Is dit vir my?” Sizwe sit sy hand oor sy mond. “Maar dis MY glimlag, Gogo,” fluister hy.
Sy ma lag. “Sizwe! ’n Glimlag is iets wat jy kan weggee sonder om dit te verloor. Kyk!” Sy lig hom op sodat hy in die spieël kan kyk. Daar is sy glimlag, net so stralend soos tevore.
Dit is tyd om uit te gaan. Mamma maak die knope van Sizwe se reënjas vas, en daar gaan hulle, deur die reën, biblioteek toe. Verder af in die straat staan Sizwe se beste maat Zanele by haar venster en kyk hartseer na die reën. Sizwe voel sy glimlag stadig opborrel. Voor hy weet wat gebeur, BONS sy glimlag uit, en vlieg oor die tuin tot by Zanele. Zanele hou die glimlag styf vas – dit is veels te kosbaar om dit te laat wegkom.
Terwyl Sizwe verder stap na die biblioteek, lui Zanele se deurklokkie. Dis die posman, met ’n brief van haar geliefde niggie. Zanele is so bly dat die glimlag uitspring en reguit koers kies na die posman. “Dankie, meneer Posman!” sê sy.
Zanele se glimlag is die helderste ding wat die posman die hele oggend gesien het. Dit hou hom warm terwyl hy deur die reën voortstrompel. Hy kom by ’n groot huis. In die erf hardloop ’n hond al in die rondte terwyl hy blaf, blaf, blaf. Hy is so laf dat die posman nie kan help om te glimlag nie. Die glimlag dartel vrolik deur die hek. Die hond hou op blaf. Hy spits sy ore en waai sy stert. Toe draai hy om en hardloop terug huis toe met die kosbare, warm glimlag.
’n Krom ou man maak die deur oop. “O, nee! Jy kan nie inkom nie. Jy’s sopnat!” sê hy vir die hond. Maar dadelik straal die glimlag op na die ou man. Die ou man staan ‘n bietjie meer regop. “Eish,” sê hy, “wat maak dit saak dat dit reën? Kom ons gaan stap, my honne!” En daar gaan hulle, al plassend deur die poeletjies.
Daar, by die sebraoorgang, staan die nors mev. Makabela, die verkeersbeampte. Sy lyk koud, nat en misrabel. Die ou man weet presies wat om te doen. “Goeiemôre, mev. Makabela!” sê hy en glimlag sy breedste, stralendste glimlag. Maar mev. Makabela glimlag nie terug nie.
Om dae aaneen in die reën te staan kan ’n mens se gesig baie, baie stroef maak. Maar ’n glimlag het towerkrag, en teen hierdie tyd is die glimlag so sterk en so stralend dat dit baie moeilik is om dit in te hou. Dit werk nie onmiddellik nie, maar bietjie vir bietjie, begin dit naderkruip totdat, einde ten laaste …! ’n Groot glimlag oor mev. Makabela se gesig sprei! Die skoolklok lui en die kinders hardloop om die straat oor te steek. Mev. Makabela hou haar verkeersteken in die lug op en glimlag vir elke enkele kind.
Die kinders glimlag vir hulle mammas en pappas, en hulle gogo’s en tatas en broers en susters. Hulle glimlag vir die busbestuurder en die groenteverkoper, en vir mev. Makau, wat wegstap om vir haar man te glimlag, wat op sy beurt weer vir die burgemeester glimlag ... Die glimlagte bons en spring en straal en blink totdat ALMAL glimlag en giggel en hardop lag in die reën.
In die biblioteek is alles stil, behalwe vir die geluid van die reën. “Dis tyd om te gaan,” sê Sizwe se mamma en maak haar boek toe. “Ag, Mamma!” sê Sizwe, wie se glimlag nou op is.
Maar toe hulle in die straat uitstap … WAT ’N GESIG! Die hele dorp is daar! Almal! En hulle glimlag ALMAL!
Die glimlagte bons en straal om Sizwe. Hulle maak hom warm, en kielie hom, en kruip op, op, op van sy tone af … tot BOOP sy kop. Hy borrel oor van blydskap tot die glimlag skitterend en stralend uitbreek. En toe verander iets. Die donker, somber, reënerige middag lyk nie meer so donker nie. Kan dit wees …? JA! Die wolke trek weg, en die warm son skyn op hulle, met die grootste, helderste en stralendste glimlag van almal.

Sizwes Smile Afr