‘n Klein Saadjie

In ’n dorpie teen die hange van die berg Kenia in Oos-Afrika, werk ’n dogtertjie saam met haar ma op die landerye. Haar naam is Wangari.
Wangari hou baie daarvan om buite te wees. In haar gesin se kostuin bewerk sy die grond met haar kapmes. Sy druk klein saadjies in die warm grond in.
Haar gunstelingtyd van die dag is net na sononder. Wanneer dit te donker raak om die plante te sien, weet Wangari dit is tyd om huis toe te gaan. Sy volg die smal paadjies deur die landerye en steek riviere oor terwyl sy stap.
Wangari is ’n slim kind en kan nie wag om skool toe te gaan nie. Maar haar mamma en pappa wil hê sy moet by die huis bly om hulle te help. Toe sy sewe jaar oud word, oorreed haar ouer broer haar ouers om haar skool toe te stuur.
Sy hou daarvan om te leer! Wangari leer meer en meer met elke boek wat sy lees. Sy vaar so goed op skool dat sy genooi word om in die Verenigde State van Amerika te gaan studeer. Wangari is opgewonde! Sy wil meer van die wêreld weet.
By die Amerikaanse universiteit leer Wangari baie nuwe dinge. Sy bestudeer plante en hoe hulle groei. En sy onthou hoe sy gegroei het: hoe sy saam met haar broers speletjies gespeel het in die skaduwee van die bome in die pragtige woude in Kenia.
Hoe meer sy leer, hoe meer besef sy dat sy lief is vir die mense van Kenia. Sy wil hê hulle moet gelukkig en vry wees. Hoe meer sy leer, hoe meer dink sy aan haar huis in Afrika.
Toe sy haar studies voltooi het, keer sy terug na Kenia. Maar haar land het verander. Groot plase strek regoor die land. Vroue het nie hout om kookvure mee te maak nie. Die mense is arm en die kinders is honger.
Wangari weet wat om te doen. Sy leer die vroue hoe om saadjies te plant sodat daar bome sal groei. Die vroue verkoop die bome en gebruik die geld om vir hulle families te sorg. Die vroue is baie gelukkig. Wangari het hulle gehelp om sterk en magtig te voel.
Oor tyd heen word die nuwe bome woude, en die riviere begin weer vloei. Wangari se boodskap versprei oor Afrika. Vandag is daar miljoene bome wat uit Wangari se saadjies gegroei het.
Wangari het hard gewerk. Mense vanoor die hele wêreld het dit raakgesien en vir haar ’n beroemde prys gegee. Dit word die Nobelprys vir Vrede genoem, en sy is die eerste vrou van Afrika wat dit ooit ontvang het.
Wangari is in 2011 oorlede, maar elke keer wanneer ons ’n pragtige boom sien, kan ons aan haar dink.

Afr_A Tiny Seed